001

BOUWER BOSCH

Hoe meet ‘n mens invloed? Hoe weet jy wanneer die klippie wat iemand in ‘n poel gooi, só rippel dat dit ander se bootjies beïnvloed – al is dit in die geringste van mates? Meet jy dit aan die hand van iemand wat iets wat hy of sy in ‘n podcast gehoor het, deel met iemand by ‘n braai? Meet jy dit aan die feit dat mense van oral oor die wêreld in die middel van die nag inlog om te sien hoe iemand in sy kamer sit en beats bou, sy 80’s bril rondskuif en met sy elektriese kitaar en ‘n MIDI keyboard karring en sukkel en oor-en-weer komponeer? Of meet jy dit aan ‘n hashtag op ‘n tweet wat terloops ook te sien is op ‘n hoodie by ‘n markie in Clarence of ‘n mark in Sydney, Australië? *

Bouwer Bosch is iemand wie se naam dadelik ‘n reaksie uitlok. Sommige mense love hom, sommiges dink hy is (cue ‘n lang lys van byvoeglike naamwoorde – en kies een). Hulle sê dit ook sommer dadelik: Hulle voel hulle moet “die Bouwer effek” met jou deel, of jy nou wil weet of nie.

Dat Bouwer Bosch invloedryk is, is onteenseglik… Ongeveer 280 000 mense wag om te hoor wat hy wil sê (of om te troll), want dit gaan nie lank wees nie, dan sal jy kan sien waarmee hy besig is. Die klem is egter wél op “besig” en nie op iets anders nie. Bouwer wag nie vir toestemming om dinge te doen nie – hy bel iemand, wat iemand ken – en dan doen hy dit. Dalk is dit hoekom hy ál meer toestemming geniet, want hy gaan dit tog anyway doen – so kom ons (hulle) ry saam? Hy sing, skryf, podcast (werkwoord), verfilm, adverteer en doen optredes oral-oor. Hy collab en connect en word genooi om in te sit by berade en paneelbesprekings van links (die linkses) tot regs (die regses) skynbaar sodat hy moet sien hoe húlle dink… Want as Bouwer soos húlle dink – wieweet wat sal dán moontlik wees…

Dalk moet ons vergeet van trefslae, followers en likes? Miskien meet ons invloed verkeerd** omdat ons ook slawe geword het van die “instant gratification-millenial-palawa” waaroor ons almal so lekker kla… Wat as ons eers vyftig jaar moet wag om te meet watter effek een gesprek oor versoening met iemand in 2018, in 10 families se lewens beteken in 2068? Of 200 jaar later?

Dalk voel Bouwer hy moet goed maak – en of die wêreld dit wil hê of nie… Hy maak dit.

*Miskien ook of Hanlie Retief jou al jou onder oë gehad het in die Rapport?

** Op die oomblik meet ons dit as faktor van jou volgelinge, vermenigvuldig met die interaksie van jou volgelinge op dit wat jy pos, alles lieflik weergee in Rand-waarde.

Teks: John-Henry Opperman
Produksie: The Media Farm