003
elma smit
Sommige visse is net té groot vir die dam, maak nie saak hoé groot die dam is nie.
Dis geen wonder dat Elma haarself nou in die buiteland bevind nie. Die wêreld het geroep en Elma is sak-en-pak fort: Brittanje toe.
Maar jare gelede het Elma as dogtertjie eenkeer agter op ’n bakkie in die wind gestaan en “MMMbop” van Hanson saam met haar sussie uit volle bors geskree-sing. Toe sy hierdie storie vertel het, het sy begin huil. Dit was doodstil in die ateljee. Dit was magic. Eenvoudige goed kan groot gevolge hê.
Ons het ‘n interne grappie van iemand wat “pro draai.”
Wanneer jy vir iemand verduidelik dat jy “pro draai” wys jy met twee vingers (indeks en middelvinger) reguit na die hemele en draai vinnig jou gewrig om. Dit simboliseer die ommekeer. Die oorgang van die gewone wêreld na die wêreld van die bonatuurlke. Die grappie is ‘n herlewing van ‘n storie wat Marnus Kruger (Pottie van Chat ‘n Bietjie Ball) van ‘n sanger by ‘n kunstefees vertel. Ons ken almal die storie, maar wanneer ons bymekaar kom vir ‘n episode van Chat ‘n Bietjie Ball, vertel ons dit weer vir mekaar. Ons lag dan ook weer – opreg, vir dieselfde storie – soos voorheen. Eenvoudige goed kan groot gevolge hê.
Ek ken iemand wat op ‘n buurtwag-Whatsappgroep is in Linden waar Elma gewoon het. Op ‘n dag gesels ons oor Ellas en die persoon vra: “Is dit Elma Smit?” Ek knik – die reaksie: “Sy vat nie kak nie.”
Elma Smit, het lankal *pro gedraai.* Die Britte het haar gevra of sy ‘n digitale webreeks kan vervaardig vir die krieketwêreldbeker. Sy het gesê: “Yes, I can” en vir drie maande leer sy alles te leer van krieket. Sy slaan die reeks vir ’n ses. Kort daarna smelt Elma die internet met ‘n soortgelyke reeks vir die 2019 RWC – Ellas, Richard en vier katte – gone! Vir Elma Smit is die lyn tussen die gewone wêreld en die wêreld van die bonatuurlike ‘n bekende drumpel. Sy dans haar lewe lank, gemaklik oor daardie lyn en ken *pro draai* baie goed. Sy onthou mense wat haar ge-“coochie-coo” het as baba. Hulle het haar geïrriteer. Sy onthou ook feite uit podcasts wat sy luister oor Russiese geskiedenis van die 1700’s. Sy maak potlode skerp net ingeval sy eendag iets moet inkleur en wanneer sy dan die geleentheid kry, Ivan Argunov* sy die rook uit dit uit. Sy weet dis belangriker om te wen as om reg te wees. Vir haar is dit eenvoudig en sy weet ook: Eenvoudige goed kan groot gevolge hê.
*Luister enige podcast oor Russiese geskiedenis om te weet hoe hierdie man kon verf – óf vra vir Elma.
Teks: John-Henry Opperman
Produksie: The Media Farm