002

Rikus de beer

As jy vir iemand sê jy is ’n makelaar of ’n verkoopskonsultant, is ’n aanvaarde reaksie: “O.”

As jy egter vir iemand sê jy is ’n komediant kan jy dieselfde reaksie verwag op papier, maar daar gaan infleksie wees op die “O.” Dit sal klink soos “Óoôo…” Mense sal frons, glimlag en vraend wonder wat dit alles beteken… Of dit hoegenaamd ’n regte ding is… (Ernie Els se storie van sy ouma wat vra wanneer hy nou ’n regte werk gaan kry, borrel op.)

Komedie is altyd ten koste van iemand of iets. Komedie is om iemand dop te hou in ’n situasie waarvoor hulle nie bekwaam is nie. Komedie is eerlik, soms brutaal, soms bitter en in baie gevalle polariseer dit mense. Die vraag ontstaan dalk of dit, in vandag se tyd – juis in óns land – waardevol is om mense verder te polariseer?

’n Antwoord op hierdie vraag kan dalk wees dat ons in hierdie tye juis ’n spieël moet hê om te sien wie ons as ’n mensdom is. Ons verloor dalk die idee daagliks en het iemand nodig wat vir ons kan wys presies waar ons die bal laat val. Iemand wat nie bang is om op tone te trap nie. Iemand wat stupid lyk met ’n hoed wat nie reg sit nie… Die ooglopende krake in ander word dalk die brug tot ons eie foute en geite. Ons eie Dingetjies en Goetertjies*. Maar hoekom daai hoedjie en hoekom só?

Juis! Jonathan se wêreldsiening is gebreek en dit is dalk wat nodig is om appels met appels te vergelyk.

Rikus de Beer se observasievermoë is ’n skalpel wat jou aan’t flarde sal sny in die eerste 5 sekondes nadat jy hom ontmoet. Maar jy sal dit nooit weet nie. Jy sal jouself net op ’n dag sien in ’n skets op die internet as Jonathan en jou verbeel dat jy ook iemand ken soos daai. Jy sal lag en jy sal nie eers weet dat jy vir jouself lag nie. Jy en die ander 470k mense wat op sosiale media wag vir treats.

Druk maak ons beter. Rikus de Beer het op ‘n jong ouderdom uitgeblink op die rugbyveld en het sterre in sy oë gehad van Springbokhakker wees. Baie het gesê hy was oppad daarheen, maar as jy jou rug breek en jy verloor ‘n sportbeurs voel jy die druk. As jy op 26-jarige ouderdom hartversaking kry voel jy die druk. As jy op 33 weer hart- (en lewer- en nierversaking) kry, voel jy die druk.

Goeie komedie is vreesloos… Goeie komediante ook. Daar is absoluut geen plek om weg te kruip as jy alleen voor ’n skare staan met net ’n mikrofoon in jou hand nie, of dit 70 mense is of 700 mense… Die blote idee daarvan is genoeg om klam palms en lighoofdigheid op te roep.

In Februarie 2019 het 7070 mense by die Sun Arena opgedaag vir ’n solo vertoning van Jonathan. Dit was ’n rekord vir die grootste opkoms vir enige solo Afrikaanse kunstenaar ooit. Op die verhoog, was daar geen watervalle, dansers, rook of spieëls nie – net 1 ou met ’n hoedjie en ’n mikrofoon. (en baie druk)

Rikus de Beer wás ’n makelaar vir Old Mutual. Hy was ook ’n verkoopskonsultant (vir ’n verfmaatskappy en John Deere ) Maar nou… Nou is hy ’n komediant.

“Óoôo…”

Teks: John-Henry Opperman
Produksie: The Media Farm